Stil plesier
Foto deur Lien Botha
Dave Pepler skryf in sy pragtige boek Immergroen. Stories oor plante:
“My voorstoep kry die son uit die weste en dit bak soos ‘n hoogoond. Op elke trappie het ek ‘n erdepotjie met ‘n vygie daarin, die bogrond toegepak met koffiekleurige spoelklippies. Soggens, as ek koffie drink op die boonste trap, bekyk ek hulle. Byna so immobiel soos fossiele staan hulle jaarlank tot daar skielik, oornag, ‘n blomknoppie verskyn. Daardie dag probeer ek tuisbly en wag tot die son tref, want ek weet dat die blom net vir my gaan bloei.
Vygies gee jou plesier op ‘n stil manier. Hoe soet klink die volksname nie – ghoena, ghôkum, steekvy, kougoed, vingerkanna, brakslaai, asbos, loogslaai, haasballetjies, kirriemoer... Het jy al suurvy-konfyt geproe? Gaan soek, want daar is nog enkeles wat dit kook. Maar, bowenal beloon vygies jou met hul dankbaarheid en uitbundigheid. Uit dorheid en grint, teen middag, breek hulle die lig.”
Dit vra om saam met Marlene van Niekerk se nota aan die stadsraad gelees te word. Wanneer my dag teen so ‘n tempo voortstorm dat dit voel asof hy by sy nate begin ratel en lostrek, dan trek ek hulle nader. Ek het nodig om te hoor dat die lewe meer is as spertye en werk. Daar is kleur en son. Hulle dans, selfs al let ek nie op nie. Maar ai, wanneer ek wel die slag raaksien – geen beter doepa nie!
George